Nie aan óns, o troue HERE, ons God,
nie aan óns, maar slegs aan ú Naam gee eer!
Waarom sou die nasies spot
as hulle oor ons het getriomfeer?
Om u goedertierenheid, wees nie stil!
Red ons om u trou ontwil!
Waarom sou die heidennasies ons spot,
met die tartende uitroep ons trotseer:
"Waar is nou die HEER, hul God?"
terwyl tog in die hemel sit die HEER,
en Hy doen slegs alles wat Hom behaag:
net sý wil geskied omlaag.
Die afgode daar by die heidendom,
is van goue of silwerbeeltenis,
waar die mens sy knie voor krom
en wat niks as hul eie maaksel is:
daar is 'n mond, maar dié is sonder taal;
daar 's 'n oog, maar sonder straal.
Ore het hulle, maar dié is stokdoof
selfs vir die luidste klank van stem of taal;
en die neus van afgodshoof,
dié kan tog nimmer ruik of asemhaal.
Hande het hulle – maar aan alkant vas! –
vingers wat nie voel of tas.
Voete het hulle, maar is vasgeklem
aan die altyd-selfde rusplek en oord;
hulle keel – geen klank of stem
kom uit 'n doodse tempelstilte voort.
Laat dié wat hulle dien en hulle vrees,
soos hulself, só nietig wees.
Israel, vertrou en steun op die HEER!
Hy is hulle hulp; hulle skild is Hy.
Arons huis, steun op die HEER!
Hy is hulle hulp; hulle skild is Hy.
Julle almal wat dan die HERE vrees,
laat die HEER jul steunsel wees!
God die HERE het ons opnuut gedenk
uit die genade van sy bondsbestel.
Seëninge sal Hy skenk
aan die huis van sy dienskneg Israel;
ja, en ook seëninge van die HEER
daal op Arons kinders neer.
Hy sal diegene seën wie Hom vrees,
kleintjies saam met grotes en wat op Hom wag;
ja, Hy sal hul allermees,
en hul kinders, seën in nageslag.
Die HERE wat spreek, en dit het geskied,
sal sy seen oor hul gebied.
HEER, die hemele, dié is u paleis,
maar U het die aarde aan ons gegee:
dooies kan die HEER nie prys,
maar óns sal – 'n lowende stemmesee –
tot in ewigheid juig die HEER ten prys,
hallelujas op laat rys.