Psalm 75

Vers 1

U alleen, U loof ons bly -
ja, ons jubel tot u eer!
Want u Naam is, troue HEER,
vir u volk tot troos naby.
Daarom roem ons in ons land
al die wonders van u hand.

Vers 2

Al vertoef Ek, spreek die HEER;
al gaan jare langsaam om -
eind'lik sal my regsdag kom,
en dan daal my oordeel neer.
Wat ook wankel - deur my hand
bly die aarde in vaste stand.

Vers 3

Laat die rasers dan nie raas;
laat geen goddelose kop
hef die hoë horings op -
in verwaandheid opgeblaas.
Want God sal die horing tref,
en die mond wat hom verhef.

Vers 4

Die verlossing, roem en eer
kom nie uit woestyne ver,
nie uit oos of weste her;
want die Regter is die HEER.
Hy sit bo die hemelboog -
Hy verneder en verhoog.

Vers 5

In Gods hand 'n beker blink;
en die druppels skuim en spring
uit die bitter mengeling
waar die sondaars van moet drink;
ja, die goddelose mond
suig die droesem tot die grond.

Vers 6

God van Jakob, lof en prys
sing ek ewig tot u eer!
Hoë horings werp ek neer
wat teen U het opgerys.
Maar ons horing, swaar getref,
word deur God weer opgehef.
Verwante psalmen