Psalm 59

Vers 1

Red my, o my God, wil my bewaar!
Die vyande kom, 'n sterke skaar.
Neem my tog in u hoed' en wag
vir teëstanders en hul mag;
die manne wat enkel onreg werk,
is in hul dors vir bloed, my te sterk.
Want kyk, hul lê en loer op my.
Hoe sterk is nou my weerparty!

Vers 2

Hoe maak hul klaar en storm op my aan,
al het ek nooit ooit teen hul misdaan.
Ontwaak, my tegemoet, aanskou
hoe ek op U alleen vertrou!
O HERE, oneindig groot van mag,
o Israels God, gedug in krag,
ontwaak, en straf dié heidendom
dat daar geeneen u wraak ontkom!

Vers 3

Wees nie genadig nie, daal met straf
op elkeen dié troueloses af.
Oordag in skuilplek weggevlug,
kom hul by donker weer terug
en huil-dwaal soos honde deur die stad.
Kyk, hoe giftig is hul woorde wat
soos swaarde my die hart deurboor.
"En wie," sê hulle, "sal dit hoor?"

Vers 4

Maar U lag oor hul, o grote God!
U sal met al die heidene spot.
Op U, my Sterkte, wil ek wag,
U is my Rotsskans, hoog in mag;
U sal u wel guns aan my laat blyk,
my op my vyande neer laat kyk.
O HEER, moet hulle nie laat sterf,
maar laat hul soos 'n balling swerf;

Vers 5

sodat my volk dit sal sien en weet,
dat hul u gerig nooit mag vergeet.
Werp hul, o God, my Skild, terneer
as trotse skenders van u eer!
Wat is hulle ongesnoerde mond?
Hulle woord? 'n Dolksteek wat deurwond.
O, dat hul trots hul mag verstrik,
deur eie vloek en leu'ns verskrik.

Vers 6

Vernietig, HERE, in toorn en mag
die onregverdige se geslag,
dat elkeen helder kan bemerk
by so 'n straf en oordeelswerk
dat God 'n regverdig' vonnis vel
en die Koning is in Israel;
dat Jakobs God sy heerskappy
oor elke land en volk verbrei.

Vers 7

Oordag in hul skuilplek weggevlug,
kom hulle by donker weer terug
en huil soos honde deur die stad.
Dan swerf hul rond langs donker pad;
kom hul nie voor spyse op die spoor
dan bly hul loer, die hele nag oor.
Maar ék sal van u sterkte sing,
u goedheid vroeg my jubel bring:

Vers 8

U was my 'n toevlug in die nag,
'n rots toe ek in angs op U wag.
God van genaad en sterk daarby,
aan U sal ek my loflied wy!
Verwante psalmen