Psalm 136

Vers 1

Loof die HEER met blye klank,
loof sy Naam, bewys Hom dank;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 2

Loof die hoogste God en HEER,
wat alle aardse mag regeer;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 3

Loof die God wat onbeperk
wonders in sy almag werk;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 4

Hy 't alwys die eewge blou
van die hemele gebou;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 5

En die aarde, omlaag, het Hy
oor die seevlak uitgebrei;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 6

Loof God! Ligte, groot van glans,
stel Hy aan die hemeltrans;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 7

Aan die son gee Hy gesag,
opperheerskappy by dag;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 8

Maan en sterre, in minder prag,
lig en vonkel deur die nag;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 9

Hy 't Egipte swaar getref;
teen hul kroos sy hand gehef;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 10

En sy Isr'el uitgelei
uit Egiptes slawerny;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 11

Sterk van hand, sy arm gestrek,
het Hy hul van daar laat trek;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 12

Hy 't die Skelfsee deurgesny
en hul middeldeur gelei;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 13

Faro met sy leër word
in die diepte neergestort;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 14

En hy het sy volk gelei
deur die wilde woesteny;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 15

Hy het koninge gedood
wat geweldig was en groot;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 16

Hy het voor sy volk gegaan -
Og en Sihon neergeslaan;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 17

En hul land is toe geheel
aan sy Isr'el toegedeel;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 18

Hy 't aan ons gedink in druk;
aan ons vyand ons ontruk;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 19

Loof die HEER wat ewig leef,
mens en dier hul spyse geef;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

Vers 20

Loof die God, die Hemelheer,
allerhoogste in mag en eer;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!
Verwante psalmen